Strategie

 

 

 

Naspers fokus op die verkryging van volhoubare markposisies in groeiende ontluikende markte met die geloof dat dit bogemiddelde geleenthede vir groei bied.

Vooruitskouend besit ons meestal veerkragtige ondernemings in ekonomieë wat gemiddeld beter presteer as die ontwikkelde wêreld. Mededinging in betaaltelevisie, regulering en verbruikersbestedingsvlakke wek egter kommer.

Ons sal ons groeistrategie voortsit. Streng evaluasieprosesse word toegepas waar nuwe beleggings oorweeg word. Ons strewe steeds daarna om oor die medium- en langer termyn waarde vir ons aandeelhouers te bied.

Fokus op beleggings en tegnologie

Naspers het aansienlike beleggings in die afgelope jare gemaak om sy intekenaar- en gebruikersplatforms op te gradeer en te verbeter. Die bedoeling is om met hierdie beleggings voort te gaan ten einde die leiersposisies wat dit in talle markte beklee, te konsolideer en om in nuwe markte uit te brei. Die Maatskappy het in verskeie internetverwante besighede belê, insluitende beleggings in e-handel transaksieplatforms en kitsboodskapkommunikasie.

Bou ’n digitale intekenaarbasis

Naspers wil graag voortgaan om MultiChoice se digitale intekenaarsbasis vir betaaltelevisie uit te brei deur sy huidige analoogklante na die digitale diens oor te skakel en ook nuwe digitale klante te werf.

MultiChoice bied sy intekenaars voorkeur fliek- en sportprogrammering en voeg deurgaans interaktiewe dienste by sy boekette (bouquets) – die term wat gebruik word om die kanale wat op die verskillende programmeringspakkette aangebied word, te beskryf.

Groeiende internetbesighede

Naspers is van plan om sy reeks internetdienste uit te brei, wat e-handel-, kommunikasie- en netwerkdienste bied, in die gebiede waarin dit sake dryf (China, Afrika, Brasilië, Sentraal-Oos Europa, Rusland en Indië). Dit is ook van plan om in nuwe ontwikkelende gebiede uit te brei.

Handhawing van 'n plaaslike benadering

Naspers het 'n suksesvolle bewese rekord van die vestiging, verkryging en groei van besighede in ontluikende markte.

Naspers glo dat 'n komponent van sy sukses in hierdie markte sy klem op 'n plaaslike benadering is, wat plaaslike vennote en bestuurspanne betrek, en wat taalkundig en kultureel aangepaste inhoud in sy diensaanbod inlyf.

Naspers is vasberade om hierdie strategie voort te sit namate sy betaaltelevisie en internetbesighede uitgebrei word.

Lewer gehaltediens

Naspers beskou sy intekenaarplatformbesigheid as hoofsaaklik 'n diensbesigheid en beklemtoon die belangrikheid daarvan om klantediens te lewer. Naspers glo dat dit help om klantelojaliteit op te bou en om omkarring ('n term wat intekenaarverlies aandui) te verminder.

Naspers wil graag voortgaan om gehalte klantediens te lewer deur dienssentrums te bedryf wat gevorderde rekenaarstelsels gebruik.

Werwing van innoverende en gemotiveerde werknemers

Naspers plaas 'n hoë prioriteit op die werwing van gehalte werknemers en moedig hulle aan om op leidende tegnologie te verbeter en met nuwe idees vorendag te kom. Werknemers word gemotiveer deurdat hulle voortdurende opleidingsgeleenthede gebied word en eienaars in die besigheid deur middel van aandele-aansporingskemas word.