Senior bestuur

       
 

 

 

 

Internet - Korporatiewe

Charles Searle

Uitvoerende Hoof: MIH Internet Genoteerde Bates

Charles Searle het in 1997 by die Naspers-groep aangesluit. Hy is tans verantwoordelik vir die internetgroep se genoteerde en sosiale mediabates, waaronder Tencent Holdings Limited, ’n toonaangewende Chinese internetmaatskappy wat op die Hongkongse aandelebeurs genoteer is, en Mail.ru, ’n voorste Russiese internetmaatskappy wat op die Londense aandelebeurs genoteer is. Hy is ook betrokke by die MIH Internetgroep se samesmeltings- en verkrygingsaktiwiteite, waar hy voorheen beleggingshoof was. Mnr Searle is ’n lid van die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters in Australië.


 

Hein Brand

Uitvoerende Hoof: Internet Latam

Hein Brand het in 1998 as finansiële bestuurder by Naspers aangesluit. Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en ’n voormalige finansiële direkteur van Media24, uitvoerende hoof van Via Afrika en later besturende direkteur van Media24. Hy is in Augustus 2008 aangestel as uitvoerende hoof van MIH Internet Latyns-Amerika, maar met behoud van verantwoordelikheid vir alle MIH-drukmediabeleggings buite Afrika, waarvan die noemenswaardigste die belegging in die vooraanstaande Brasiliaanse tydskrifuitgewer Abril en twee Chinese drukmediabeleggings is.


 

Oliver Rippel

Uitvoerende Hoof: Internet Suidoos-Asië, Indië & MENA

Oliver Rippel is in Julie 2009 deur MIH Internet as uitvoerende hoof van Internet in Afrika en die Midde-Ooste aangestel, en vroeg in 2011 as uitvoerende hoof van Internet in Suidoos-Asië, Indië & Afrika. Dit sluit verskeie internetbates in Indië in, waaronder Ibibo, verskeie ondernemings in Suidoos-Asië, waaronder Multiply.com en Sulit.com.ph, asook sekere entiteite in Afrika, soos Korbitec. Oliver het in Januarie 2009 by Naspers aangesluit as hoof van sakeontwikkeling in Suidoos-Asië, voordat hy na Kaapstad, Suid-Afrika verhuis het. Voordat hy vir Naspers begin werk het, was Oliver nege jaar by eBay – eers in sy tuisland Duitsland en toe as deel van die Asië-Pasifiese streek in China, Korea en Suidoos-Asië. Daar het hy meestal gefokus op strategie, sakeontwikkeling, asook kategoriebestuur en bemarkingsbedrywighede. Oliver het in die ekonomie studeer in Berlyn, Duitsland.


 

Martin Scheepbouwer

Uitvoerende Hoof: MIH Internet Classifieds & WEU

Martin is verantwoordelik vir die geklassifiseerde advertensie-werksaamhede by MIH, wat sentreer rondom OLX, Dubizzle, Fixeads en Ricardo. Voordat hy by MIH aangesluit het, het hy oor 'n tydperk van sewe jaar verskeie senior poste in internetmaatskappye beklee – eers by eBay en toe by Schibsted. In hierdie tyd het hy breë ervaring van alle relevante besigheidsaspekte soos strategie, finansies, produkbestuur, bedryf en verkope opgedoen. Martin het al in alle lewensiklus-fases gewerk, van die stigting van 'n nuwe onderneming tot die bestuur van 'n volwasse internetmaatskappy met 'n groot personeelkorps en 'n groot finansiële begroting. Martin is ook gekies om sy professionele impak te verbreed deur van sy idees oor die beste probleemoplossing te publiseer: Thinking Backwards het reeds in 5 tale verskyn. Hy het 'n MSc-graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Delft verwerf en 'n MBA by INSEAD, en hy het sewe jaar ondervinding in konsultasiewerk by McKinsey.


 

Bill Paladino

Uitvoerende Hoof: MIH Internet Afrika

Bill Paladino is in Januarie 2012 as uitvoerende hoof van E-handel Suid-Afrika aangestel, en in April 2012 as uitvoerende hoof van MIH Internet Africa. Die Afrika-streek sluit verskeie internetbates in, soos kalahari.com, PriceCheck, en 36Boutiques in Suid-Afrika, asook Mocality in Nigerië en Kenia. Voordat hy by MIH aangesluit het, was Bill uitvoerende direkteur van e-handel by Dell Global, waar hy alle webwerfspanne regoor Asië vanaf Dell se streeksentrum in Singapoer bestuur het. Voor Dell was Bill ’n direkteur by Amazon.com Japan (Tokio) waar hy alle verbruiksgoedere-kategorieë bestuur het. Hy en sy spanne het drie suksesvolle ondernemings vir die Japanse mark geloods. Bill was ook ’n senior leier by Amazon.com (Seattle), asook Wolfgang Puck Worldwide en Cooking.com in Los Angeles, Kalifornië.


 

Brad Porteus

Streekhoofbestuurder, MIH Internet Suidoos-Asië

Brad Porteus werk al sedert 1996 in verbruikersinternetmaatskappye, waaronder multinasionale maatskappye soos MTV en eBay en vroeëfase-groeimaatskappye soos Yelp, Elance en Bubble Motion. By MIH werk Brad met streekportefeuljemaatskappye in Suidoos-Asië en gee strategiese en bedryfsleiding aan die uitvoerende hoofde en bestuurspanne om ons ondernemings te laat groei deur uitstekende produkte en dienste te skep waaroor gebruikers dol is.


 

 
         
     

 

Internet - Operasie

Hein Pretorius

Uitvoerende Hoof: Allegro Groep

Hein Pretorius het in 2000 as uitvoerende hoof van kalahari.com by die Naspers-groep aangesluit. In 2002 het hy uitvoerende hoof geword van N-Direct (kalahari.com en die boek- en musiekklubs) en in 2004 het Hein na China verhuis as direkteur van internetsakeontwikkeling, eers na Shanghai en toe na Beijing, om die groep se beleggingsaktiwiteite te bevorder. Hein was betrokke by die beleggings in Mail.ru, Nimbuzz, Gadu-Gadu en die Tradus-groep (Ricardo & Allegro) en is in 2007 na Nederland verplaas, waar hy bedryfshoof van die internet-afdeling in Europa was. In September 2008 is hy as uitvoerende hoof van die internet-afdeling in Europa aangestel en in April 2012 as uitvoerende hoof van die Allegro-groep. Hy is ’n direkteur van verskeie maatskappye in die MIH-groep.


 

Arjan Bakker

Voorsitter: Allegro

Arjan Bakker was van 1991 tot 1999 ’n stigterslid en direkteur van Cadena, ’n maatskappy wat op IT-oplossings fokus. In 1999 was hy medestigter van Allegro.pl, die voorste veilingdiens in Pole. Hy het die afgelope 10 jaar ’n groep dienste in Pole en Sentraal- en Oos-Europa ontwikkel en die Allegro-groep in een van die suksesvolste ondernemings omskep.


 

Romero Rodriques

Uitvoerende Hoof: BuscaPé

Romero het by die Politegniese Skool van die Universiteit van São Paulo ’n baccalaureusgraad in elektriese ingenieurswese verwerf, met rekenaarwetenskap as hoofvak. Romero het op ouderdom 20 BuscaPé gestig en is sedertdien die uitvoerende hoof. BuscaPé.com, wat in Julie 1988 in ’n motorhuis begin is, het tot ’n internetgroep met 18 eiendomme in 28 lande uitgebrei. Die maatskappy het tans 1,100 werknemers, wat oor agt kantore in Latyns-Amerika versprei is, en bereik elke maand meer as 60 miljoen verbruikers.


 

J.C. Butler

Besturende Vennoot Dubizzle

J. C. Butler is die mede-besturende vennoot van die hoogs suksesvolle geklassifiseerde advertensie-webwerf Dubizzle.com in die Midde-Ooste. Dié werf is sedert 2005 die eenstopwinkel vir mense wat wil koop, verkoop of op soek is na goedere en dienste in hul stede. As medestigter van die webwerf het J.C. met sy betrokkenheid by die webwerf stukrag gegee aan die groei tot 'n hoëverkeer-stapelportaal in die hele streek. Voordat hy Dubizzle gestig het, was J.C. 'n jaar lank as mediaverkoopskonsultant betrokke by projekte in België, Duitsland en Koeweit. Hy het ook vir 'n vooraanstaande openbare betrekkinge-maatskappy in New York gewerk, en 'n toplokaal in Granada, Spanje 'n nuwe handelsmerk gegee, dit bemark en bestuur. J.C. is in Boston, Massachusetts gebore en het in Santa Fe, Nieu-Mexiko en Suid-Kalifornië grootgeword. In 2004 het hy 'n graad in Internasionale Ekonomie aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles (UCLA) verwerf. Met 'n entrepreneursgees het J.C. reeds op hoërskool 'n suksesvolle huisverf-onderneming in San Diego begin.


 

Sim Whatley

Besturende Vennoot Dubizzle

Sim Whatley is die mede-besturende vennoot van die hoogs suksesvolle geklassifiseerde advertensie-webwerf Dubizzle.com in die Midde-Ooste. Dié werf is sedert 2005 die eenstopwinkel vir mense wat wil koop, verkoop of op soek is na goedere en dienste in hul stede. As medestigter het Sim gehelp om die werf vanaf sy ontstaan te laat groei tot 'n hoëverkeer-portaal in die hele streek. Sim is sedert 2004 in die Midde-Ooste en voor die stigting van Dubizzle het hy 'n jaar lank in 'n korporatiewe bankomgewing in Amerika gewerk, en nog 'n jaar in media en advertensieverkope in die Midde-Ooste. Sim het Dubizzle.com begin met die voorneme en strewe om 'n streekwebwerf vir geklassifiseerde advertensies te skep wat die lewe van die inwoners in die streek sou verbeter. Dubizzle is besig om hierdie strewe te verwesenlik – die webwerf is al na 15 lande uitgebrei. Sim het in Baton Rouge, Louisiana grootgeword, waar hy 'n graad in Finansies magna cum laude aan die Staatsuniversiteit van Louisiana behaal het. Sim het reeds van vroeg af 'n oog gehad om waarde uit baie min te skep, soos toe hy lekkergoed teen 'n wins op die speelgrond verkoop het. Sy entrepreneursgees word die beste beproef wanneer hulpbronne skaars is en dit kreatiewe probleemoplossing verg.


 

Miguel Mascarenhas

Uitvoerende Hoof: FixeAds

Miguel Mascarenhas is sedert 2000 in die Portugese geklassifiseerde advertensie-/veiling-internetbedryf werksaam en in 2004 het hy Standvirtual geskep, wat die voorste webwerf vir geklassifiseerde motoradvertensies is. FixeAds is in 2007 gestig en het gepaardgegaan met die loodsing van die veilingwebwerf Leiloes.net en later Imovirtual (vaste eiendom). In 2012 is OLX.pt ingelyf by FixeAds, wat 'n internasionale span van meer as 60 lede in diens het.


 

Ashish Kashyap

Uitvoerende Hoof: ibibo-groep Ashish

Kashyap het die ibibo-groep in Januarie 2007 op die been gebring en bekend gestel. Hy was die dryfkrag agter die skep van toonaangewende internet- en mobiele bates in Indië, bestaande uit: die voorste informele speletjiesplatform (ibibo games); snelgroeiende e-handelsplatforms soos Goibibo.com (reis) en Tradus.in (aanlyn-inkopies), en die betaalportaal PayU India. Voor sy huidige pos het Ashish Google Indië se binnelandse werksaamhede op die been gebring en bekend gestel, as hul landhoof. Voordat hy by Google Indië aangesluit het, het Ashish e-handelsondernemings by Indiatimes.com gestig en ’n winsgewende en skaalposisie laat bereik. Hy was die argitek van die eerste “omgekeerde veilingsportaal†genaamd “Tell Your Priceâ€, het Indië se eerste “reisveilingâ€-platform geskep, en ook vasteprys-markte bekend gestel. Ashish het ’n honneursgraad in die ekonomie aan die Universiteit van Delhi, Indië verwerf en ’n internasionale meestersgraad in praktykbestuur (IMPM) by Insead, Fontainebleau, Frankryk behaal.


 

Caren Genthner-Kappesz

CEO kalahari.com

Caren het in 2013 by die Naspers-groep aangesluit as uitvoerende hoof van kalahari.com. Sy het van Berlyn na Kaapstad verhuis, waar sy as hoofbedryfsbeampte werksaam was by brands4friends, 'n filiaal van eBay en markleier in blitsverkope in Duitsland. Caren was nege jaar by eBay Inc. in die rol van hoofbestuurder vir shopping.com Germany, en as 'n direkteur en hoofbestuurder vir eBay Express Germany. Haar breë ervaring sluit konsultasiewerk vir 'n vooraanstaande wêreldwye strategiekonsultasiefirma BCG in, en sy was medestigter van 'n konsultasierfirma met 'n fokus op hoëtegnologie- en beginondernemings, wat later deur Sapient verkry is. Afgesien van die feit dat sy 'n ywerige hardloper en kosliefhebber is, het Caren 'n PhD in Wiskunde. Sy is getroud, met twee dogters.


 

Riaan Basson

Besturende Direkteur: Korbitec

Riaan Basson het by Stellenbosch en Queens’ College, Cambridge (1986-1993) in die regte studeer en in Kaapstad, Amsterdam en Londen as prokureur gepraktiseer, en in samesmeltings & verkrygings en telekommunikasiereg gespesialiseer (1994-1999). Hy was van 2000 tot 2005 sakeontwikkelingsdirekteur by M-Web en is sedert 1 Augustus 2005 uitvoerende hoof van Korbitec/Property24.


 

Ben Colayco

Hoofbedryfsbeampte: LevelUp!

Ben Colayco het saam met sy pa Level Up! gestig en was die dryfkrag agter die bekendstelling van Level Up! se aanlyn-speletjiesmaatskappye in die Filippyne, Indië en Brasilië. Hy het ’n geruime tyd in elke mark deurgebring en is nou in Kalifornië gesetel, waar hy Level Up! se Noord-Amerikaanse gesamentlike onderneming met KOG Studios van Korea bestuur. As hoofbedryfsbeampte hou hy toesig oor die Noord-Amerikaanse, Brasiliaanse en Filippynse filiale. Gedurende die afgelope nege jaar in die aanlyn-speletjiesbedryf het Ben die kategorie sien ontwikkel van wat oorspronklik as ’n gier in Korea beskou is, tot ’n multimiljard-dollarsakemodel regoor die wêreld. Ben, wat ’n graad aan die Universiteit van New York verwerf het, was in New York se advertensie- en aanlyn-advertensiebedryf voordat hy na Manila teruggekeer het om Level Up! in 2002 te begin.


 

Dmitry Grishin

Uitvoerende Hoof: Mail.ru

Dmitry Grishin het in 2001 ’n honneursgraad in rekenaargesteunde ontwerp aan die Tegniese Staatsuniversiteit van Moskou verwerf. Hy was van 2001 tot 2003 tegniese direkteur van Mail.ru, en in April 2003 is hy aangestel as uitvoerende hoof van Mail.ru. Dmitry dien tans ook in die direksies van Mamba en Molotok.


 

Sina Afra

CEO Markafoni

Sina is medestigter, voorsitter en uitvoerende hoof van Markafoni, die eerste en voorste blitsverkope-webwerf van Turkye. Markafoni is in 2008 deur Ahmet Emre Sari, Tolga Tatari en Sina Afra gestig en was die eerste Turkse internetmaatskappy wat buite die grense van die land uitgebrei het: Markafoni het tussen 2009 en 2011 blitsverkope-webwerwe in Australië, Oekraïene, Griekeland en Pole geloods. In Turkye het Markafoni in April 2011 zizigo.com – die voorste vertikale webwerf vir skoene in Turkye – op die been gebring, en in Oktober 'n vertikale kosmetiek- en skoonheidswerf Misspera.com geloods. Die Markafoni-groep is nou in vyf lande bedrywig en het meer as 1 000 werknemers. Die Naspers-groep het in Julie 2011 'n meerderheidsbelang in Markafoni verkry en een van die grootste transaksies in die Turkse internetbedryf beklink. Sina is ook 'n aktiewe beskermheer van besigheid ("Besigheidsengel") en belê deur Akinon in Turkse beginondernemings. Hy is 'n stigterslid van die Galata Business Angels, 'n groep Turkse beskermhere wat hoofsaaklik in Turkye in aanlyn- en digitale geleenthede belê. Sina is in 2012 as die "Webentrepreneur van 2011" en "Besigheidsengel van 2011" in Turkye aangewys. Markafoni het twee toekennings ingepalm: "Beste Web-beginonderneming van 2011" en "Beste Blitsverkope-werf van 2011". Voor die stigting van Markafoni het Sina meer as vyf jaar by eBay en 12 jaar by KPMG gewerk. Sina het 'n "Diplom Kaufmann" aan die Universiteit van Münster ontvang en praat vyf tale. Hy deel sy idees oor e-handel in sy persoonlike blog http://www.sinaafra.com en op Twitter (sinaafra).


 

Fabrício Bloisi

Uitvoerende Hoof: Movile

Fabrício Bloisi is een van die stigters en uitvoerende hoof van Movile (voorheen Compera nTime), die grootste mobiele waardetoevoegingsdiensmaatskappy in Brasilië en baanbreker op die gebied van dienste soos mobiele webtoepassing-winkels, mobiele video, slimfoontoepassings, mobiele bemarking, SMS-stemming, mobiele video op aanvraag, waarskuwings en mobiele verpersoonliking. Fabricio het ’n BSc-graad in rekenaarwetenskap (UNICAMP) en ’n MBA/MSC (FGV-EAESP). Hy het in 2000 in die mobiele bedryf begin, as die stigter van Compera nTime, en aktief deelgeneem aan inisiatiewe met die doel om die groei van die VAS-bedryf in Brasilië te versnel, onder andere as voorsitter van die Amcham Mobile Business-komitee en direkteur van AMMB (Mobile Marketing Association of Brazil).


 

Stefan Magdalinski

Uitvoerende Hoof: Multiply.com

Stefan het in 2012 as uitvoerende hoof van Multiply oorgeneem toe die maatskappy na Jakarta, Indonesië geskuif het en is in beheer van alle produkontwikkeling en strategiese leiding. Stefan het meer as 15 jaar ervaring in e-handel, as entrepreneur, tegniese hoof en uitvoerende hoof. Voor sy aanstelling by Multiply was Stefan uitvoerende hoof van nog ’n Naspers/MIH-maatskappy, Mocality.com, ’n mobiele sakegids wat entrepreneurs regoor Afrika bedien. Voor Mocality was Stefan tegniese hoof van die digitale drukmaatskappy MOO.com, en hy het ook gehelp om verskeie nuwe ondernemings op die been te bring, waaronder UpMyStreet, WriteToThem.com, TheyWorkForYou.com en The Open Rights Group (openrightsgroup.org).


 

Alec Oxenford

Mede- Uitvoerende Hoof: OLX

Alec Oxenford is ’n Argentynse seriële entrepreneur wat op die internet fokus. Voordat hy ’n entrepreneur geword het, het Alec as ’n besigheidskonsultant vir The Boston Consulting Group in Europa en Latyns-Amerika gewerk, waar hy topbestuur van vooraanstaande maatskappye oor markstrategie en organisasiedoeltreffendheid geadviseer het. Voor OLX het Alec in 1999 DeRemate.com gestig, wat hy tot een van die twee grootste aanlyn-handelsplatform in Latyns-Amerika opgebou het. DeRemate is in 2005 aan ’n eBay-geaffilieerde maatskappy verkoop. In 2003 was Alec ook medestigter van DineroMail.com, ’n toonaangewende betaalplatform in Latyns-Amerika. In Maart 2006 was Alec medestigter van OLX.com saam met sakevennoot Fabrice Grinda en as mede- uitvoerende hoof bestuur Alec die maatskappy se kantore in Buenos Aires en São Paulo, waar die tegnologie-, inhoud- en kliëntespanne gesetel is. Alec dien in talle NRO-direksies en is deur die Wêreld Ekonomiese Forum as Jong Wêreldleier aangewys. Alec het in 1997 sy MBA-graad by Harvard se sakeskool met lof geslaag, met onderskeidings in sy eerste en tweede jaar.


 

Fabrice Grinda

Mede- Uitvoerende Hoof: OLX

As ’n internet-entrepreneur en belegger het Fabrice met welslae sake-idees omskep, aangepas en daarin belê in die VS, Europa, Asië en Latyns-Amerika. As medestigter en mede- uitvoerende hoof is Fabrice aan die stuur van die maatskappy se besigheidsontwikkeling, beleggersverhoudinge, samesmeltings en verkrygings, en produkontwikkeling. Voor OLX was Fabrice die stigter en uitvoerende hoof van Zingy Inc., wat hy tot een van die grootste draadlose mediamaatskappye in die Amerikas opgebou het, terwyl hy ook suksesvolle ooreenkomste met van die top draadlose verskaffers in die wêreld aangegaan het. Binne vier jaar het Fabrice die onderneming met welslae tot inhoudverkope van VS$200 miljoen uitgebrei, voordat hy dit in 2004 vir VS$80 miljoen verkoop het. In 1998 was Fabrice medestigter en uitvoerende hoof van Aucland S.A., een van die drie voorste veilingwebwerwe in Europa. Voor dit was Fabrice ’n besigheidskonsultant vir McKinsey & Company. Fabrice het in 1996 met hoogste lof aan Princeton-universiteit geslaag en die Halbert White-prys ontvang as die uitnemendste ekonomiestudent, asook die Wolfe Balleisen-gedenkprys vir die beste tesis.


 

Mark Chirnside

Uitvoerende Hoof: PayU MEA

Mark, wat in die VK gebore is, bring meer as 20 jaar internasionale ondervinding in die betalings- en sagteware-ontwikkelingsbedryf na sy rol as uitvoerende hoof van PayU MEA (Midde-Ooste en Afrika). Hy het in 2010 by Naspers in Suid-Afrika aangesluit, en is in Maart 2011 as uitvoerende hoof van PayU MEA aangestel. Voordat hy by PayU aangesluit het, het Mark as uitvoerende hoof van Ukash ’n sleutelrol gespeel om die maatskappy suksesvol na meer as 40 lande op 5 vastelande te lei. Mark het ook talle senior bestuursposte in Europa en Noord-Amerika beklee, waaronder hoof van betaalde dienste by Wanadoo, een van Europa se grootste internetdiensverskaffers, en vir Deutsche Bank gewerk in rolle soos besturende direkteur: VSA vir Paybox, en bedryfshoof van Paybox in die VK.


 

André de Wet

Hoofbestuurder: PriceCheck

André de Wet het sy internetloopbaan meer as 15 jaar gelede begin toe die internet- en selfoonontploffing pas begin het. Hy het die storm en die bars van die eerste borrel getrotseer en het ’n deeglike begrip van die internet en mobiele media. Hy was op verskillende vastelande in die internet-, mobiele en finansiële arenas werksaam – hoofsaaklik Afrika, Europa en Asië. Met die wye verskeidenheid internasionale direkteurskappe en hoofbestuursposte wat hy beklee het, bring hy ’n magdom kennis en ondervinding na die MIH-groep. André het as uitvoerende hoof by die groep aangesluit nadat hy in Augustus 2010 uit Singapoer teruggekeer het en is nou as hoofbestuurder van PriceCheck verantwoordelik om die onderneming te lei en tot die grootste prysvergelykingswerf in Suider-Afrika uit te brei.


 

Christian Kunz

Uitvoerende Hoof: ricardo Groep

Sedert Oktober 2012 beklee Dr. Christian Kunz die pos van uitvoerende hoof van die Ricardo-groep, met verantwoordelikheid vir al die Groep se besighede met e-handelsplatforms en aanlynportale in uitgesoekte Wes-Europese lande. Benewens sy rol as uitvoerende hoof van die Ricardo-groep, is Christian ook uitvoerende hoof van Switserland, met verantwoordelikheid vir alle besighede van ricardo.ch AG. Dit sluit in: ricardo.ch, auto.ricardo.ch, shops.ch en tradus.ch. Hy het 'n span van ongeveer 300 werknemers. 
As 'n aanlynstrategis en e-handelskenner het Christian voorheen voorste bestuursposte by eBay International AG beklee. Hy het eBay se internasionale advertensiebesigheid opgebou en aan die hoof gestaan van strategiese ontwikkeling in Europa en lande. Voordat hy in die e-handelsarena begin werk het, was hy vyf jaar by McKinsey & Company, waar hy breë bestuurservaring opgedoen het. As 'n adviseur vir middelgroot en groot motor- en IT-maatskappye, het hy langtermyn-sakestrategieë ontwikkel en in werking gestel. 
Christian Kunz het 'n PhD in kernfisika van MIT en 'n meestersgraad van die Universiteit van Bonn, Duitsland.


 

Tiwa York

Besturende Direkteur: Sanook E-handel

Tiwa York het in September 2011 as besturende direkteur van e-handel by Sanook aangesluit. Sy taak is om voortreflike e-handelsondernemings – insluitend geklassifiseerde advertensies en aanlyn-inkopies – vir die mark in Thailand op te bou. Voordat hy by Sanook begin het, was hy platformdirekteur by die Omnicom Mediagroep (Thailand), verantwoordelik vir die ontwikkeling van agentskappe se digitale dienste-afdeling. Tiwa was 7 jaar by die DMS Groep waar hy verskeie rolle vervul het – onder meer besturende direkteur van die Admax Network (Thailand), DMS VP Bemarking & Besigheidsontwikkeling en besturende direkteur van nuwe media.


 

RJ David

Uitvoerende Hoof: Sulit

RJ David het in September 2006 saam met sy vrou Arianne Sulit.com.ph begin as ’n gratis webwerf vir geklassifiseerde advertensies, met die Filippyne as teikenmark. Hy het die webwerf uit sy slaapkamer geloods en dit het gegroei tot die plaaslike webwerf met die meeste bladbesoeke in die land. Voordat hy Sulit.com.ph begin het, het hy as ’n selfopgeleide webontwikkelaar en as ’n sagteware-toetsingenieur gewerk. RJ het ’n baccalaureusgraad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van die Filippyne verwerf.


 

MA, Huateng (Pony Ma)

Kernstigter, Uitvoerende Hoof: Tencent Holdings Limited

Pony Ma is een van die kernstigters, uitvoerende direkteur, voorsitter van die direksie en uitvoerende hoof van Tencent. Pony hou toesig oor strategiese ontwikkeling, algemene leiding en sakebestuur van die Groep. Voordat hy Tencent in 1998 gestig het, was Pony in beheer van die navorsing en ontwikkeling van internetpagineerstelsels by China Motion Telecom Development Limited, ’n verskaffer van telekommunikasieprodukte en -dienste in China. Pony het in 1993 ’n BSc-graad in rekenaarwetenskap aan die Shenzhen Universiteit verwerf en hy het meer as 18 jaar ondervinding in die telekommunikasie- en internetbedryf.


 

Ankush Nijhawan

Medestigter en Uitvoerende Hoof: Travel Boutique Online (TBO)

Ankush het Travel Boutique Online in 2007 op die been gebring en geloods. Vandag is TBO die grootste B2B-reisportaal in die aanlyn-arena in Indië en TBO werk met amper 14 000 reisagente in Indië en die Midde-Ooste. Ankush het ’n baccalaureusgraad in Besigheidsadministrasie met Bemarking en Sielkunde as hoofvakke in Boston verwerf. In 2007 is hy deur CNBC as ’n Jong Turk aangewys vir die revolusionêre wyse waarop hy reishandel deur sy B2B-reisportaal verander het.