Interne beheerstelsels

 

Die maatskappy het ’n interne beheerstelsel, gegrond op die groep se beleid en riglyne, in alle groot iliale en gesamentlike ondernemings onder sy beheer. Ten opsigte van entiteite waarin Naspers nie ’n beherende belang het nie, poog direkteure wat Naspers in hierdie direksies verteenwoordig om die gerusstelling te kry dat beduidende risiko’s bestuur word en dat die interne beheerstelsels doeltreffend is. Interne ouditeure monitor die werking van interne beheerstelsels en doen aanbevelings by bestuur en die oudit- en risikokomitees. Die eksterne ouditeur oorweeg elemente van die interne beheerstelsels as deel van sy oudit en meld geïdentifiseerde tekortkomings aan.

Alle interne beheerstelsels het tekortkomings, insluitend die moontlikheid van menslike foute of verontagsaming van beheermaatreëls. Selfs die beste interne beheerstelsel kan slegs gedeeltelike gerusstelling bied. Die groep se interne beheerstelsels is ontwerp om redelike – nie absolute – gerusstelling oor die integriteit en betroubaarheid van die finansiële state te gee; om verantwoordbaarheid van sy bates te beveilig, te veriieer en te handhaaf; en om bedrog, potensiële aanspreeklikheid, verlies en wesenlike wanvoorstelling op te spoor, terwyl die regulasies nagekom word.

Die direksie het die doeltreffendheid van beheermaatreëls vir die jaar tot 31 Maart 2011 nagegaan, hoofsaaklik deur ’n proses van selfevaluering van bestuur, insluitend formele bevestiging by wyse van verteenwoordigingsbriewe deur uitvoerende bestuur. Insette, waaronder verslae van interne oudit en die eksterne ouditeur, voldoening en die risikobestuursproses, is oorweeg. Waar nodig is programme vir regstellende aksie ingestel.



Niks het gedurende die oorsigjaar onder die direksie, eksterne of interne ouditeure se aandag gekom wat dui op enige wesenlike gebreke in die funksionering van interne beheermaatreëls en -stelsels nie, behalwe:

  • swakhede wat by Media24 aangemeld is ten opsigte van die inwerkingstelling van die ERP-stelsel gedurende die jaar, en die gevolglike ontoereikende en ondoeltreffende nterne beheer oor die sirkulasieproses.