Gesondheid en veiligheid

 

 

 
  • Ons streef ’n beseringvrye werkomgewing na.
  • Ons doen gesondheids- en veiligheidsrisiko-evaluerings by ons fasiliteite, wat deur opleiding ondersteun word.
  • Ons monitor bestuur se aksies deur operasionele, interne en eksterne oudit- en verslagdoening.
  • ’n Gesonde werksmag dra by tot sakesukses. Verskeie van ons ondernemings bied mediese hulp- en welstandprogramme aan hul personeel.
DIE WERKPLEK

Die behoud van ’n gesonde, veilige werkplek in sowel administratiewe as produksiefasiliteite geniet voorkeur. Ons streef die laagste moontlike koers vir beserings aan diens na. Waar nodig, verseker gesondheids- en veiligheidskomitees – wat uit verantwoordelike, opgeleide individue bestaan – regulatoriese voldoening. Geskikte mediese nood- en rampherstelplanne is vir die bedryf van die ondernemings ontwikkel.

Jaarlikse oudits of evaluerings van beroepsgesondheids- en veiligheidsrisikobeheer word deur bedryfsentiteite in die hele groep uitgevoer en waar nodig word verbeterings aangebring. Belangrike sake word by Naspers se risikokomitee aangemeld en deur die komitee gemonitor.

Media24 se verspreidingsonderneming en drukkerye maak op groot skaal gebruik van kontrakteurs en organiseerders. Die meeste kom uit voorheen benadeelde gemeenskappe en kry opleiding by Media24 om hul werk veilig en doeltreffend te kan uitvoer. Weens die aard van die drukkery-onderneming, wat verspreidingsnetwerke en drukkeryfasiliteite besit en bedryf, is dit die area in die Naspers-groep met die grootste inherente risiko vir beserings aan diens.

Media24’s distribution and printing operations make extensive use of contractors and organisers. Most of these are from previously disadvantaged backgrounds and receive training from Media24 on executing their jobs safely and effectively. The nature of the print business, which owns and manages distribution networks and printing facilities, makes it the area in the Naspers group with the greatest inherent risk for injuries on duty.

MONITERING

Media24 se veiligheids-, gesondheids- en omgewingskomitee, ’n subkomitee van die direksie, monitor verwante kwessies in die Media24-groep. Media24 en MultiChoice doen jaarliks gesondheid-, veiligheid- en omgewingsoudits en gaan geboue na om voldoening te verseker. Beserings aan diens word streng gemonitor.

Die brand by Paarl Print in April 2009 het tragies tot 13 sterftes en ernstige beserings aan vier mense gelei. Dit was die ergste voorval in die groep se geskiedenis. Ons betreur hierdie lewensverlies en beserings en ons dink steeds aan daardie gesinne. Groepmaatskappye het die gesinne finansieel bygestaan en amper R7m uitbetaal. ’n Formele ondersoek na die brand by Paarl Print, ingevolge artikel 32 van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, is in Junie 2010 afgehandel. ’n Verslag is ingevolge artikel 32 van die wet opgestel en op grond van inligting wat van die departement van arbeid ontvang is, word verwag dat die verslag binne die afsienbare toekoms beskikbaar gestel sal word. Nader inligting dui daarop dat die verslag na die nasionale vervolgingsgesag verwys is vir verdere aksie. Wanneer die verslag beskikbaar gestel word, is dit moontlik dat derde partye siviele eise teen die maatskappy kan instel. Paarl Print se blootstelling in hierdie verband behoort ná die versekeringsterug betaling nie beduidend te wees nie. Ons het die gesinne ook gehelp om eise ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroeps beserings en -siektes van 1993 in te dien.

WELSTAND

Verskeie welstand-programme word deur die groep se filiale bedryf in ’n voorkomende benadering tot werknemers se gesondheid. Dit wissel van programme om op te hou rook, tot MIV/vigs-toetse. Drywers en personeel wat aan geraas blootgestel word, ondergaan gereeld mediese, oog- en gehoortoetse. Professionele en onafhanklike psigososiale ondersteuning word aan personeel in die ondernemings verskaf.

MultiChoice bied ’n reeks welstand- en gebalanseerde leefstyldienste aan alle werknemers op die perseel, en ’n Montessori-kleuterskool vir sy werknemers in Randburg.

Media24 het ’n welstandsentrum by sy kantore in Kaapstad en by sekere drukkerye. Gesondheidsdienste sluit toetse in vir hoë bloeddruk en diabetes, gratis MIV/vigs-berading en -toetsing, en ’n aantal risikobeheer-programme. Deurlopende welstandondersteuning word deur mobiele klinieke regdeur die maatskappy verskaf.

MIV/VIGS

Ons is deeglik bewus van die MIV/vigs-pandemie in Afrika en die maatskaplike en ekonomiese implikasies hiervan. Omvattende programme in Media24, MultiChoice Suid-Afrika en MultiChoice in Afrika suid van die Sahara buite Suid-Afrika behels die volgende:

  • inligtings- en bewusmakingsveldtogte
  • vrywillige gratis toetsing
  • gratis berading, en
  • omvattende mediese behandelingsprogramme.