Etiese kode

 

 

 

As lede van die Naspers-groep skakel ons op talle maniere met mekaar en met ons belanghebbers. Ongeag of ons vermaak, inlig, opvoed of netwerkoplossings skep, ons doen dit altyd met integriteit. Ons etiese strewe is vervat in ons INTEGRITEITSKETTING, wat die beginsels verwoord wat ons aan mekaar en aan ons belanghebbers bind. Alle direkteure, beamptes en werknemers in die Naspers-groep streef daarna om aan hierdie kode te voldoen, en die toepassing van hierdie beginsels onderlê spesifieke prosedures wat die maatskappye in die Naspers-groep gebruik.

Naspers se Integriteitsketting

Ons is ’n GEMEENSKAP in Naspers, en ons streef daarna om almal regverdig en met respek te behandel. Ons respekteer almal se menswaardigheid en diversiteit. Ons laat nie onbillike diskriminasie toe nie en ons is verbind tot diensbillikheid. Ons interaksie met die gemeenskappe wat ons met ons produkte en dienste dien, is gegrond op respek en ’n verantwoordelikheidsin.

Die SKAKEL wat ons in ons uiteenlopende werksaamhede verbind, is ons integriteit en passie. Ons glo in dit wat ons doen en ons doen dit met integriteit. Dit is waarom ons mekaar vertrou en waarom ons belanghebbers ons kan vertrou. Ons integriteit en passie vir Naspers help ons om moontlike konflik tussen ons belange en dié van die groep te vermy. Ons direkteure, beamptes en werknemers het ’n verpligting om die beste belange van die groep te alle tye op ’n verantwoordelike wyse te bevorder. Enige daad of situasie wat tot konflik, of die persepsie van konflik in die uitvoering van die groep se sake kan lei, moet vermy word. As daar ’n botsing van belange ontstaan, moet direkteure, beamptes en werknemers volledige besonderhede daaroor openbaar maak en hulle aan die betrokke besluitnemingsproses onttrek.

Ons KOMMUNIKASIE is gebou op eerlikheid. Ons skakel met ons interne en eksterne belanghebbers en hou hulle ingelig deur middel van billike, tydige en verstaanbare openbaarmaking. By Naspers glo ons dat tersaaklike inligting, onderworpe aan wat algemeen as goeie praktyk beskou word, gereeld met personeel gedeel moet word. As ’n werknemer, bestuurder of direkteur vermoed dat die kode oortree is, sal iemand met die nodige gesag en status beskikbaar gestel word om aandag daaraan te gee. Elke werknemer, bestuurder en direkteur het die geleentheid om onetiese gedrag sonder vrees vir vergelding te rapporteer.

Ons is VERBIND tot die toepassing, implementering en afdwinging van ons etiese kode binne elke maatskappy in die Naspers-groep. Ons onderwerp ons aan die beginsels van hierdie kode, en verwag dat ons belanghebbers ons van alle verbrekings daarvan in kennis sal stel. Onetiese gedrag sal nie geduld word nie, en die oortreding van wette, reëls en regulasies sal tot dissiplinêre optrede lei. Ons laat geen weerwraak toe teen ’n direkteur, werknemer of bestuurder wat te goeder trou ’n oortreding of ’n vermoedelike oortreding van die reëls van ons kode rapporteer nie.

Direkteure, beamptes en werknemers moet die wette en regulasies van die owerhede en die lande waar ons sake doen, respekteer.

Hoewel alle bestuurders en personeel as bewaarders van hierdie kode optree, is die Naspers-direksie se mensehulpbronne- en nominasiekomitee die hoofbewaarder van etiese praktyke in die groep.

Die uitlewing van ons integriteitsketting word geïnspireer deur die hoë standaarde wat in hierdie kode vasgelê is, asook in ander toepaslike beginsels, reëls en riglyne. ’n Noodsaaklike element van gepaste gedrag is die nakoming van die verpligtinge soos vervat in die toepaslike personeelbeleid en -praktyke. Oortredings in dié verband kan tot dissiplinêre stappe lei.

7 Junie 2004